Aangepaste reëls kom moontlik om nuwe Covid variante uit Suid-Afrika te hou

Die regering oorweeg stappe om gevaarlike variante van die Covid 19-virus uit Suid-Afrika weg te hou.

Reisigers wat na Suid-Afrika kom van lande waar kommerwekkend nuwe Covid 19-variantgevalle voorkom, kan gedwing word om vir tien dae in isolasie te bly, selfs al toets hulle aanvanklik negatief.

Netwerk 24 berig dat dit een van die voorstelle is wat die nasionale Covid 19-bevelsraad (NCCC) Dinsdag sal bespreek.

Die Britse regering het die B.1.617.2-variant wat tans in Indië voorkom, verlede week op sy lys van kommerwekkende variante geplaas.

Geen gevalle van hierdie variant is al in Suid-Afrika bevestig nie, maar wel alreeds in Amerika, asook verskeie Europese lande.

Die toetsuitslae om te bepaal of die bemanning van ‘n vragskip wat verlede week vanaf Indië in Durban se hawe aangekom het, die virus onder lede gehad het, is nog nie bekend nie.

Een bemanningslid is dood en 14 het positief getoets vir Sars-Covid-2.

Die bemanningslede bly steeds in kwarantyn.

Luister na potgooie hieronder