Die Automobiel Assosiasie verwag vir Juniemaand aansienlike prysdalings vir bykans alle soorte brandstofpryse. Sy verwagting is gebaseer op die huidige ongeouditeerde
middel-maand-data van die Sentrale Energiefonds. Hiervolgens sal 95 oktaan petrol na verwagting met sowat 61 sent per liter daal, en 93 oktaan met nagenoeg 63 sent.
Die groothandelprys van diesel kan met tot soveel as 74 sent per liter daal, en die prys van verligtingsparaffien met ongeveer 69 sent per liter. Die AA sê die hoofdrywers agter die dalings is ‘n versterkende rand en laer internasionale oliepryse.