Die kans is redelik goed dat die voormalige Vrystaatse premier en oud-sekretaris-generaal van die ANC hom weer in die Vrystaatse wetgewer of selfs die parlement kan bevind as om tronk toe te gaan. Netwerk 24 berig Ace Magashule se verhoor in die asbesdak-saak is volgende jaar vir ses weke op die hofrol van die hooggeregshof in Bloemfontein geplaas, van 15 April tot 23 Junie. Die nasionale verkiesing kan moontlik in Mei plaasvind maar nie later as Augustus nie. Werner Horn, voorsitter van die DA in die Vrystaat en ook die party se veldtogbestuurder, het gesê dis nie onmoontlik om ‘n LP te word as iemand die beskuldigde in ‘n strafsaak is nie. ‘n Persoon is slegs onbevoeg vir so ‘n pos indien daar ‘n skuldigbevinding is en meer as 12 maande gevangenisstraf opgelê word. Magashule het sy eie party, die African Congress for Transformation gestig nadat hy uit die ANC geskop is. Horn het gesê Magashule, wat talle ondersteuners in die Vrystaat het, kan dalk setels kry.