Sy toekoms in die politiek is steeds blink, meen Ace Magashule nadat hy Maandag uit die ANC geskop is. Die voormalige ANC sekretaris-generaal het aan Netwerk 24 gesê dié stap was nie ‘n verrassing nie. Hy het gesê dit gaan egter goed met hom en sy toekoms is die politiek. Magashule het gesê hy sal sy onmiddellike toekomsplanne volgende week op ‘n nuuskonferensie bekendmaak. Sy permanente skorsing kom nadat president Cyril Ramaphosa Vrydag die Spesiale Ondersoekeenheid opdrag gegee het om die Vrystaatse premierskantoor weens bewerings van ernstige wanbestuur in sy ampstermyn te ondersoek. Hy staan ook nog saam met ander in die Bloemfontein hooggeregshof tereg in ‘n bedrogverhoor wat verband hou met die sogenaamde asbesskandaal waarby R255 miljoen betrokke is. Kenners meen die ANC het nou gewys dat niemand bo die ANC-grondwet verhewe is nie. Magashule wou in 2021 as sekretaris-generaal vir Ramaphosa skors uit die party.
