Action SA sê al hoe meer Suid-Afrikaners word gedwing om tussen hul eie afval te leef. Dit is waarom die leier van die party, Herman Mashaba vandag begin met ‘n landswye veldtog, “The Shitty Tour”. Die party wil hiermee vir Suid-Afrikaners wys hoe die land se riool-infrastruktuur in duie gestort het.
Netwerk 24 berig die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, het gister gesê ‘n toenemende aantal gemeenskappe in die land ervaar daagliks riool in hul strate en selfs huise. Hy het gesê die eindresultaat is besoedeling van grondwater, besoedeling van riviere en kuslyne asook die uitbreking van cholera. Beaumont sê dit het so erg geraak dat Durban nie meer toeriste lok nie. Die Shitty Toer wil uitwys hoe die ineenstorting van rioolinfrastuktuur die lewens van landsburgers raak. ActionSA wil ook toesig hou oor munisipaliteite waar die grootste probleme is.