Adjunkpresident Paul Mashatile word met korrupte sakepraktyke verbind deur die vriendekring waarin hy beweeg. Volgens News24 word Mashatile gekoppel aan omstrede tenderpreneurs wat van bedrog en korrupsie beskuldig word. Van die omstrede sakemanne laat Mashatile glo ook toe om in hulle luukse wonings te kom en gaan en die lewe van ‘n koning te lei. In die verslag getiteld, Mashatile Unmasked, lei die adjunkpresident na bewering ‘n lewe van luuksheid en oordaad, en trek voordeel uit noue bande met polities verbonde sakemanne. Die adjunkpresident het nie op die ondersoekverslag gereageer nie. Die 61-jarige Mashatile maak intussen geen geheim daarvan dat hy reg is om die president van die land te word na volgende jaar se verkiesing nie. Die land kan egter nie nog ‘n era van staatskaping bekostig nie, dit sal Suid-Afrika se ondergang beteken, het politieke kenners oor die verslag gesê.