‘n Advertensie van die Springbokslot, Eben Etzebeth, mag nie weer op televisie uitgesaai word nie omdat hy ‘n portier in ‘n hotel rondruk. Volgens Maroela Media het die Advertensie-beheerraad die besluit geneem op grond van twee klagtes. Die advertensie moet onmiddellik verwyder word aangesien reklame materiaal geen inhou mag bevat wat kan lei tot geweld of dit ondersteun of goedpraat nie. In die advertensie vir BokSquad, vra Etzebeth twee keer vir ‘n portier of hy al ingeskryf het. Die portier antwoord hy was besig. Later in ‘n hysbak skud Etzebeth die portier heen en weer omdat hy nog nie ingeskryf het nie. Die klaers het gesê die advertense is onvanpas en dat geweld deur Springbokke goedgekeur word. Die adverteerder het in reaksie gesê dit was bedoel om amusant te wees en as lighartige vermaak beskou te word. Die beheerraad het gesê die Springbokke is helde en hulle gedrag kan jong seuns en mans beïnvloed.
