Dit is duidelik dat die internasionale samelewing toenemend bewus word van uitdagings wat minderheidsgroepe soos Afrikaners in Suid-Afrika in die gesig staar. Dit aldus AfriForum, na afloop van die burgerregteorganisasie en die Afrikanerstigting se onlangse steunwerwingsbesoek aan die VSA.
Ernst Roets, uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting en Ernst van Zyl, uitvoerende direkteur van openbare betrekkinge by AfriForum, het ook sekere oplossingsvoorstelle van die Solidariteitbeweging aan internasionale organisasies voorgehou. Die Afrikanerstigting is ’n nuwe instelling in die breër Solidariteitbeweging wat hom onder meer beywer om steun in die buiteland te werf.