Die paaie en stormwaterafvoerpype in Bloemfontein is, volgens AfriForum, in ’n beroerde toestand en hulle eis dat die Mangaung Metro Munisipaliteit dringend hieraan aandag skenk.
Hulle sê verder in ‘n aanlyn artikel benewens grootskaalse skade aan voertuie, het die slaggate ook tot verskeie ongelukke bygedra.
Voorts veroorsaak die stormwaterafvoerpype, wat glo nie onderhou word nie, ook skade aan die stad se infrastruktuur en het selfs plek-plek tot klein vloede gelei.
Verskeie voertuie moes uit die vloedwater gesleep word, soos ’n ambulans wat besig was om ’n pasiënt te vervoer.
Die metro se hoof van kommunikasie, Qondile Khedama, het reeds vroeër die week in ‘n kennisgewing gesê die stad se stormwaterdreineringstelsel kon nie die stortreën hanteer nie, en het gesê dat opvanggate geblokkeer is.