Die burgerregteorganisasie AfriForum is een van die organisasies wat aangedui het dat dit nou sal oorgaan tot regsaksie teen die voorgestelde omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, ook bekend as die Bela-wetsontwerp. Dit volg nadat dit gistermiddag deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is. AfriForum het gesê dit is duideliker as ooit dat die ANC-regering hierdie wetsontwerp deur alle prosesse probeer stoomroller. AfriForum sit daarom voorbereiding vir litigasie daarteen voort. Die wetgewing moet nog deur die Nasionale Raad van Provinsies en die president goedgekeur word. AfriForum se hoof van kultuursake, Alana Bailey, het gesê die wetgewing sal ten koste van die jeug van die land en veral die Afrikaanse jeug wees.