Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy teenkanting uitgespreek oor die Kill the Boer-liedjie wat die naweek tydens die EFF se tiende bestaansjaarsaamtrek gesing is. Die omstrede liedjie is die naweek tydens die leier van die party, Julius Malema, se afsluitingstoespraak by die FNB-stadion in Johannesburg gesing. AfriForum het voorheen ‘n haatspraaksaak teen die EFF aanhangig gemaak, maar die Gelykheidshof het dit verlede jaar van die hand gewys. AfriForum se uitvoerende hoof vir strategie, Ernst Roets, het aan SAUK Nuus gesê die organisasie appelleer egter tans teen die hof se beslissing.
