AfriForum Jeug het sy regspan opdrag gegee om moontlike regstappe in verband met die tydelike skorsing van ’n senior student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) te ondersoek.
Daar word gesê dat die student openlik beswaar gemaak het teen die inhoud wat tydens ‘n oriënteringsgeleentheid bespreek is.
Rosestad-nuus het vroeër berig tydens die sessies is onder meer LBGTQIA+-regte bespreek. AfriForum Jeug het Vrydag in ‘n verklaring gesê ‘n student het na bewering gekritiseer en aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor geslagskwessies toegelaat word.
AfriForum Jeug sal nou die gronde vir die student se tydelike skorsing ondersoek. Volgens inligting wat ontvang is, is die student geskors weens beweerde oneerbiedige gedrag.
Volgens die woordvoerder van AfriForum Jeug, Ronald Peters, beklemtoon die organisasie dat studente nie verhinder mag word om hul mening uit te spreek as hulle nie saamstem met sekere opinies of aktiwiteite op kampus nie.