Die burgerregteorganisasie AfriForum, sê hoewel dit belangrik is vir Suid-Afrikaners om in vanjaar se algemene verkiesing te stem, is dit nie al wat gedoen kan word om die land reg te ruk nie.
AfriForum-hoof, Kallie Kriel reken daar is baie wat Suid-Afrikaners sonder die hulp van die regering kan vermag.
Hy sê daar is ook baie ander organisasies wat hulle vir sterker en veiliger gemeenskappe beywer. Kriel sien dit as bron tot hoop vir die land se toekoms.
Die EFF in die Vrystaat intussen beskuldig die ANC daarvan dat hy die wanaanwending van staatshulpbronne inspan om stemme vir môre se tussenverkiesing op Ladybrand te werf.
ANC-provinsiale sekretaris, Polediso Motsoeneng sê egter die departement is tans met ‘n bouprojek doenig, om huise wat hier in aanbou is, te voltooi.
Die EFF sê die ANC gebruik die regering se vragmotors om stemme te werf, terwyl Motsoeneng volhou dat die gebruik van die trokke uitsluitlik vir die bouprojek is.