Die burgerregte organisasie Afriforum se private vervolgingseenheid, onder leiding van advokaat Gerrie Nel, het vandeesweek die familie van die oorlede jong boer, Willem Kruger ingelig dat geen gemene spel bevind kon word in hulle ondersoek na sy dood nie. Kruger van Groblersdal is as vermis aangemeld nadat hy laasjaar November ‘n ramparty op die Henbase Lodge in Mpumalanga bygewoon het. Na ‘n reuse soektog is Kruger se bakkie, met sy lyk in,nege dae later in die Vaalrivier gevind. Tian Kruger, Willem se pa het aan Netwerk24 gesê hulle hoop dat ‘n formele of informele geregtelike doodsondersoek nou gehou sal word. By ‘n formele geregtelike doodsondersoek word getuienis gelei en kan getuies kruisondervra word. Tian sê dat Willem daardie aand buite karakter opgetree het en dat die familie antwoorde soek. Volgens Gerrie Nel sal die Nasionale vervorgingsgesag die dossier aan ‘n Landros voorlê waarna daar dan sal besluit word of daar ‘n formele of informele geregtelike doodsondersoek sal wees.