‘n Video wat wys waar ‘n man in Bloemfontein probeer om ‘n vrou van die pad af te dwing, en haar voertuig met ‘n voorwerp gegooi het, is vroëer die week op sosiale media versprei.
Lede van die AfriForum Pellissier Buurtwag het Donderdagoggend die voertuig opgemerk.
Hulle het die bestuurder genader, en het bevestig dat dit dieselfde persoon is wat in die video gesien word. Die klaer is dadelik gekontak, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ingeroep. Die SAPD het die vrou vergesel om ‘n beskermingsbevel te bekom, en die saak sal verder ondersoek word.
Volgens die AfriForum Buurtwag bly hulle tot die ondersteuning van die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders verbind. Hulle het ook hul dank aan die AfriForum911 Reaksie-Eenheid en ITR Sekuriteit vir hul ondersteuning uitgespreek.