Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister ’n verslag bekendgemaak oor die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, of NGV. Volgens AfriForum is die grootste rede tot kommer hoe dié stelsel gefinansier gaan word. Luidens die verslag word vier moontlik bronne van inkomste vir die NGV ondersoek wat ’n negatiewe impak op belastingbetalers sal hê. Een wat onder meer genoem word, is betaalstrokiebelasting. Volgens die organisasie sal die opsie behels dat die regering van werkgewers gaan vereis om ’n gedeelte van hul werknemers se salarisse te verhaal wat dan aan die regering oorgedra sal word. Die verslag gaan verder om te verduidelik dat die NGV onbekostigbaar is vir die land.