Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het ’n brief aan die Griffier van die Hoogste Hof van Appèl gestuur waarin amptelik versoek word dat waarnemende appèlregter – Raylene Keightley – haarself onttrek aan verdere deelname aan ‘n paneel van regters. Die paneel moet beslis in AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se gebruik van die dreunsang “Kill the Boer”. Luidens ‘n verklaring deur AfriForum volg dié versoek nadat dit die afgelope week aan die lig gekom het dat Keightley in 2018 in ’n hof teen AfriForum uitgevaar het deur aan te voer dat dié organisasie onwillig is om van sogenaamde “anachronistiese standpunte” afstand te doen. Sy het destyds ook glo gesê dat AfriForum dit moontlik mag oorweeg om te vra vir haar onttrekking, sou sy weer voorsit in ’n saak waarby AfriForum betrokke is. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hy en AfriForum se regspan in die “Kill the Boer”-saak is eers ná Maandag se verhoor, waarin Keightley volgens hom openlik bevooroordeeld was, ingelig van Keightley se destydse tirade.