Afriforum beplan om die Mangaung Metro Munisipaliteit hof toe te vat indien die metro nie gehoor gee aan inwoners wat aansoek gedoen het vir die kansellasie van hul vullisverwyderingsrekeninge nie. Afriforum het reeds die aangeleentheid met die metro opgeneem omdat talle huishoudings in Bloemfontein van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak. Afriforum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, Petrus Coetzee, het in ‘n verklaring gesê meer as 600 inwoners het alreeds vir kwytskelding van ‘n gedeelte van hul diensterekening gevra maar is deur die metro ingelig die aansoeke gaan nie oorweeg word nie. Vullisverwydering in Bloemfontein vind soms vir weke lank glad nie plaas nie en skep al vir etlike jare frustrasie onder inwoners.