Daar moet wetgewing wees dat Afrikaleiers nie mediese behandeling in oorsese lande mag ontvang terwyl hul eie gesondheidstelsel in duie stort nie, het die LUR vir gesondheid in Limpopo, dr Phophi Ramathuba gesê. Sy het bygevoeg regeringsamptenare moet behandel word en sterf in hul eie hospitale omdat die swak toestand van gesondheidsgeriewe hulle skuld is. Volgens Netwerk 24 was Ramathuba ‘n paneellid op die Afrika Gesondheids Indaba wat oor drie dae in Midrand, Johannesburg gehou is. Die Indaba is deur leiers en politici in die gesondheidsektor van oor Afrika bygewoon. INTUSSEN, sal Ramathuba se tugverhoor deur die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika, of HPCSA, in Januarie voortgaan nadat sy immigrante sonder dokumentasie beskuldig het dat hulle die land se gesondheidstelsel leegtap. Sy wil hê ander lande moet die rekenings van hul burgers se behandeling betaal.