Die sperdatum vir die afskakeling van Suid-Afrika se 2G- en 3G-netwerke is deur die departement van kommunikasie en digitale transformasie met twee jaar uitgestel.
My Broadband berig daar is voorheen beplan om die 2G-netwerk teen Junie 2024 en die 3G-netwerk teen Maart 2025 af te skakel. Die totale afskakeling van beide netwerke het egter nou dieselfde finale sperdatum – 31 Desember 2027.
Die regering beplan om op 1 Junie 2025 met die oorskakeling te begin. Boonop kan selfoonoperateurs besluit in watter volgorde om hul netwerke af te skakel. Die regering het die Junie 2023-sperdatum vir die verbod op 2G-toestelle gemis en dit na 31 Desember van dieselfde jaar verskuif, wat dit blykbaar ook misgeloop het.