Agt verdagtes is Maandagaand in die Two Town-woongebied in Khayelitsha deur die polisie doodgeskiet, en vyf ander is in hegtenis geneem. Die mans was glo oorgehaal om ‘n transitorooftog uit te voer toe die polisie hulle vir ondervraging nader.
EWN berig ‘n oor-en-weer skietery het uitgebreek toe die verdagtes met AK-47’s en ander aanvalsgewere op die polisie losbrand. Die polisiebeamptes het met ‘n private sekuriteitsonderneming saamgewerk om ‘n wenk oor ‘n moontlike transitorooftog op te volg.
Daar is beslag gelê op sewe AK-47’s, twee R-5’s, een R-4, twee pistole, verskeie magasyne met ammunisie, asook ploftoestelle.