Afrikaanse kunstenaars is gisteraand by die derde jaarlikse Aitsa-musiektoekenningsgeleentheid in Pretoria vereer.
Die organiseerders het gesê ‘n rekordgetal van 24 287 stemme is vanjaar aanlyn geregistreer en 389 kunstenaarsinskrywings is ontvang.
Die stemme is deur ‘n vooraf-bepaalde formule gekonsolideer en is deur ‘n onafhanklike ouditeursfirma geverifieer.
Corlea Botha se liedjie “Haat” is vir luisterliedjie van die jaar vereer en die pop-liedjie van die jaar is “Ploeg jy?” van Ricus Nel.
Spoegwolf, Esté Gross en Elvis Blue is ook van die room van Afrikaanse kunstenaars wat met toekennings weggestap het.
Die 90-jarige Mimi Coertze is vir haar lewenslange bydrae tot die vermaaklikheidsbedryf vereer.
Vorige wenners van dié toekenning is Sonja Herholdt en Gert van Tonder.