‘n Uitspraak van die hooggeregshof in Alabama dat gevriesde embrio’s as kinders beskou word, en dat ‘n persoon aanspreeklik gehou kan word om dit per ongeluk te vernietig, het ‘n nuwe front in die Amerikaanse stryd oor reproduktiewe medisyne geopen.
Die BBC berig die suidelike Amerikaanse deelstaat se grootste hospitaal het sy in-vitro-bevrugtingsdienste (IVF) gestaak in die nasleep van die besluit, uit vrese dat dit hulle aan kriminele vervolging kan blootstel.
Aborsie is in talle state in die suide onwettig, ongeag of die swangerskap voortspruit uit verkragting of bloedskande. Alabama is egter die enigste staat wat bevrugting as die begin van die lewensiklus definieer.
Die Universiteit van Alabama in Birmingham se gesondheidstelsel het gesê dit sal voortgaan om eiers uit vroue se eierstokke te haal. Maar dit het gesê dit sal die volgende stap in die IVF-proses stop – waarin die eiers met sperm bevrug word voordat dit in die baarmoeder ingeplant word.