200 van die 540 mynwerkers wat na bewering onder in die Gold One-myn by Springs “gyselaar gehou” is, het gisteroggend die eerste keer sedert Sondagaand die daglig aanskou.
Die res van die werkers het gister drupsgewys na die oppervlak gekom. Netwerk24 berig volgens die National Union of Mineworkers, of Num se woordvoerder, Livhuwani Mammburu, is 15 werkers onder in die myn beseer.
Daar is skynbaar aan hom gesê hulle is deur 40 ander mynwerkers gyselaar gehou. Die protesaksie spruit daaruit voort dat Amcu as meerderheidsvakbond by die myn erken wil word.
Num – wat sedert 2012 as sodanig deur die myn erken word – beweer die werkers is teen hul wil aangehou. Amcu ontken egter dat enige van die werknemers gyselaar gehou is.
Daar word berig sekere werkers wat onder in die myn aangehou is het vir hul lewens gevrees. ‘n Vrou wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisasie, het aan City Press gesê sy het Maandagaand ‘n stukkie brood en ‘n bietjie water gekry, maar verder niks.
Hoewel sy lid van Num is, het sy gesê sy is nie daarteen gekant om by Amcu aan te sluit indien dit tot beter werksomstandighede sal lei nie.
Nog ‘n werker, wat deel was van ‘n 100-sterk-groep van wat gisteroggend ‘n ontsnappingsroete uit die myn gevind het, het gesê Num het sy lede versaak. Hy meen daar moet vernuwing by die myn kom en dat Amcu die antwoord is.