Alle aandag is op môre se vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) om te sien wat hul moontlike besluit sal wees in die huidige koalisieskaakspel.
Dít nadat die ANC met verlede week se verkiesing nie met ʼn volstrekte meerderheid gewen het nie.
Suid-Afrikaners hou asem op om te sien wat die moontlike vereistes vir ʼn koalisieooreenkoms sal wees, met wie die ANC bereid is om saam te werk en of president Cyril Ramaphosa die leier vir die koalisieregering sal wees.
Die meeste politieke partye het reeds hul onderskeie onderhandelingspanne aangewys met sommige wat reeds begin voelers uitsteek het na mekaar.