Alle oë is Woensdag op die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, om te sien of hy bykomende geld vir onderwys sal bewillig om begrotingstekorte aan te vul.

Volgens Build One South Africa (Bosa) moet die regering fondse vir onderwys insamel en besteding aan beskermingsdienste vir politici verminder.

Die begrotingsbesnoeiings in onderwys sal na verwagting reeds tot die vermindering van ongeveer drieduisend onderwysposte in die land lei. Intussen het die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, en sy departement Dinsdag aan die parlement se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys dit duidelik gemaak dat hulle geen ander keuse het as om onderwysposte in die provinsie te sny nie.

Weens die voortslepende begrotingskrisis is die departement genoodsaak om sy getal onderwysers met sowat twee en ‘n half duisend te verminder. Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys het dieselfde probleem en sit met meer as 600 oortollige onderwysposte.

 

error: Inhoud is beskerm !!