Die Amerikaanse minister van Finansies, Janet Yellen, het gewaarsku dat verdere sanksies binnekort teen Iran ingestel gaan word. AFP berig dit volg na Iran se ongekende oornag-aanval op Israel die afgelope naweek. Yellen het die bykomende sanksies tydens die lentevergaderings van die Internasionale Monetêre Fonds in Washington bekend gemaak.
Volgens Yellen sal die tesourie nie huiwer om met hul Amerikaanse bondgenote saam te werk om hul sanksiegesag te gebruik om die Iranse regime se kwaadaardige en destabiliserende aktiwiteite te ontwrig nie. Yellen het gesê die naweek se aanval asook Houti-rebelle se aanvalle in die Rooisee, bedreig die streek stabiliteit en veroorsaak onstuimigheid. Yellen het gesê Washington werk daaraan om Iran se vermoë om olie uit te voer, te verminder.