Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het ‘n massiewe steunpakket van 95-miljard-dollar goedgekeur wat militêre hulp aan Oekraïne, Israel en Taiwan sal bied. Maroela media berig vier wetgewings in dié verband is gister met die steun van die Demokrate en Republikeine in die huis goedgekeur. Die steun aan Oekraïne van 61-miljard-dollar is binne ‘n kwessie van ‘n paar minute afgehandel. ‘n Hulppakket van 26 miljard-dollar is vir Israel goedgekeur en agt-miljard-dollar aan Taiwan.
‘n Verdere nege-miljard-dollar is vir humanitêre steun aan burgerlikes in oorlogsones soos Haïti, Soedan en Gaza. President Joe Biden van Amerika, het in reaksie op die stemming gesê die wetgewing sal kritiese ondersteuning bied. Hy het die betrokke wetgewers geprys wat tydens die stemming oor party-grense bymekaargekom het om te antwoord op “‘n oproep van die geskiedenis”.