Amerika het na Suid-Afrika gekap oor sy klag van volksmoord teen Israel wat volgende week in die Internasionale Geregshof van die Verenigde Nasies in Den Haag aangehoor sal word. John Kirby, woordvoerder van die Withuis se Nasionale Veiligheidsraad, het alle aanklagte teen sy bondgenoot rakende die oorlog in Gaza verwerp. AFP berig Kirby het gesê die saak is sonder meriete, teenproduktief en geensins op feite gegrond nie. Suid-Afrika voer aan die voortslepende slagting van Palestynse burgers is volksmoord. Israel het in reaksie op die klag gesê hy verwerp met minagting die bloedlaster wat deur Suid-Afrika en sy hofaansoek versprei word. Matthew Miller, woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, het gesê Amerika het nog geen dade aanskou wat op volksmoord deur Israel gesien kan word nie. Intussen het Jaco Kleynhans, hoof van internasionale betrekkinge by Solidariteit, gesê die verhouding tussen SA en Israel het ‘n algehele laagtepunt bereik. Hy het gesê SA se buitelandse beleid word met ‘n valk-oog deur westerse lande dopgehou. 

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×