Die ANC is waarskynlik met geen ander keuse gelaat, as om oudpresident Jacob Zuma uit die regerende party te skors nie.
Politieke ontleders is dit eens dat die skorsing van ‘n lid, met die soort aansien wat Zuma geniet, ‘n duidelike boodskap aan ander lede van die party stuur. Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het gistermiddag eenparig ten gunste van sy skorsing besluit.
Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, het gesê dit staan die 81-jarige Zuma vry om die skorsing in die hof te betwis. Die politieke ontleder, Daniel Silke, meen dit is interessant dat Zuma geskors is weens party-aangeleenthede, en nie weens sake wat die land raak, soos beweerde betrokkenheid by staatskaping nie.
Die verhouding tussen Zuma en die ANC het laat verlede jaar versuur, toe Zuma openlik sy steun aan die uMkhonto weSizwe-party toegesê het. Hy het sy voorneme om vir die nuwe party te stem duidelik gemaak, selfs al was hy lid van die ANC.