Die ANC sê dit sal aan ‘n Konstitusionele Hofuitspraak wat die party beveel om sy kaderontplooiingsrekords aan die DA te oorhandig, voldoen. Die party waarsku egter dat sommige rekords nie bestaan nie.
Die Konstitusionele Hof het verlede week die ANC se appèl om die rekords privaat te hou, van die hand gewys. Die rekords dateer terug na 2013, toe president Cyril Ramaphosa die voorsitter van die kaderontplooiingskomitee geword het. Die ANC het in ’n verklaring bevestig dat dit alle rekords wat gevind is sal oorhandig en ontbrekende rekords sal verduidelik.
Die party sê daar bestaan slegs notules van sy ontplooiingsvergaderings van 2018 en 2021.
Die ANC het tot vyfuur Maandagmiddag om die rekords te oorhandig.