ANC se nasionale uitvoerende komitee begin vandag met sy gereelde vergadering

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee begin vandag met sy gereelde vergadering en die opdrag en magte van die ANC se integriteitskommissie is bo aan die agenda.

Luidens berigte sal die vergadering tot Sondag duur.

Sommige ANC-lede is van mening dat die integriteitskommissie nie bemagtig is om hul werk te doen nie en dat sy aanbevelings nie bindend is nie.

Dié kommissie het onder meer bevind dat die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, opsy moet staan totdat die korrupsiesaak teen hom afgehandel is, maar dit het nie gebeur nie.

Sommige lede wil ook hê dat die kommissie aan die NUK verslag moet gee en nie aan die sekretariaat
nie.

Daar sal onder andere ook ander kwessies bespreek word soos die befondsing van tersiêre onderrig, die komende plaaslike regeringsverkiesing asook die ANC se reaksie op Covid 19 en die verspreiding van entstowwe.

Luister na potgooie hieronder