Kommer oor veiligheid word as rede gegee, waarom die ANC besluit het om eers na afloop van die verkiesing met stappe teen oudpresident Jacob Zuma voort te gaan. NewsKoop berig Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die regerende party, sê die besluit is geneem nadat oorweging geskenk is aan ‘n verslag oor veiligheidsrisiko’s.
Zuma sou na verwagting môre voor die ANC se Nasionale Dissiplinêre Komitee verskyn. Hy is in Januarie uit die ANC-nes geskop, nadat dit bekend geword het dat die oudpresident hom vir die uMkhonto weSizwe-party beywer. Zuma word daarvan beskuldig dat hy ook met die verskyning van sy naam op die MK-party se kandidatelys, die ANC se grondwet oortree het.