Die ANC in Tshwane het ‘n mosie van wantroue teen die uitvoerende burgemeester, Cilliers Brink teruggetrek wat vir Vrydag beplan was.
SABC-nuus berig dit volg nadat Brink Donderdagoggend ‘n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het om die mosie te keer.
Hy het aangevoer dat dit onwettig is, en dat hy geregtig is op voldoende tyd om te reageer op kwessies wat aangevoer is. Die mosie deur die ANC word ondersteun deur die EFF, ActionSA, COPE, ATM, ACDP, AIC en die GOOD-party.
Die partye sê Brink het nie daarin geslaag om die stad te red nie, en dat dienslewering onder sy leierskap agteruit gegaan het.
Die ANC se streeksekretaris, George Matjila, sê hulle respekteer die hangende regskwessies en sal oor twee weke terugkeer om sake af te handel. Hy sê die partye het in beginsel besluit om die mosie tydelik terug te trek.