“Vordering in Suid-Afrika verg ’n stabiele regering met duidelike reëls – maak nie saak wie in die Regering van Nasionale Eenheid is nie.”
So sê die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, aan SABC News ná Saterdag se vergadering in Sandton.
Sy sê die doel van die vergadering was om die koalisie aan te pas, sodat dit beter funksioneer, en om strukture vir groter samewerking en verantwoordbaarheid te vestig.
Dit volg te midde van meningsverskille oor wetgewing soos die Nasionale Gesondheidsversekering, die BELA-wetsontwerp en grondonteiening.
Bhengu-Motsiri sê hulle wil ’n sterker regering bou met duidelike protokolle.
Die ANC het bevestig dat dit bereid is om saam met enige party te werk wat aan die land se vooruitgang wil meewerk.