Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het op die vooraand van die verkiesing verlede maand, nuwe regulasies in die Staatskoerant oor die onderwys gepubliseer. Die nuwe regulasies bepaal dat alle skole binne die volgende 12 tot 18 maande aan die minimum energie-, sanitasie- en infrastruktuurstandaarde moet voldoen.
Indien nie moontlik nie, moet die bepaalde departement beplanning indien wat aandui wanneer voldoening sal geskied. Die burgerorganisasie AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, sê dit skep egter min hoop dat die situasie by skole sal verbeter. Sy sê soortgelyke tydraamwerke is in die verlede ook opgestel, aanvanklik met 2013 as sperdatum, later 2016 en toe 2023.