Daar word by die Mangaung Metro Munisipaliteit (MMM) duidelikheid gesoek oor hoekom Heidedal se publieke swembad toegelaat is om te verval en plaaslike kinders sonder ‘n veilige plek gelaat is om te swem.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Mangaung sal luidens hulle media-verklaring druk op die munisipaltieit sit om onmiddellik noodsaaklike instandhouding te doen. Byna ‘n jaar gelede het Heidedal se gemeenskap die taak opgeneem om die swembad self op te knap, maar glo weens die munisipaliteit se voortdurende versuim om die fasiliteit in stand te hou, het dit weereens agteruitgegaan.
Die afwesigheid van hierdie veilige ontspanningsruimte het kinders genoop om alternatiewe liggings te soek, met baie wat hulle na die gevaarlike steengroef wend. Hierdie steengroef het al talle jong lewens geëis, wat die gemeenskap groot verliese berokken het.