Vrystaatse Nooddienswerkers is nog ver van ’n blaaskans af, met verhoogde druk wat op Suid-Afrikaanse paaie voortduur.
Arrive Alive rapporteer twee ongelukke wat vanoggend op Vrystaat se paaie plaasgevind het.
Kort na 06:00 was daar ’n botsing by ’n kruising in Viljoenskroon wat een persoon se lewe geëis het.
Die pasiënt was vasgekeer in die voertuig. Bothaville se Nooddienste was vinnig op die toneel om die pasiënt te bevry, maar het later aan beserings beswyk. Nog twee ander het matige beserings opgedoen.
’n Paar minute later was daar ’n botsing op die R708 in Bultfontein. Die botsing was tussen ’n swaarvoertuig en ’n sedan.
Drie mense het hul lewens in die botsing verloor, terwyl drie ander beseer is.
Een pasiënt het matige beserings opgedoen, terwyl twee ander met geringe beserings behandel is.
Motoriste word aangeraai om die gebiede met omsigtigheid te nader.