Die tiener-naelloop-sensasie Bayanda Walaza het amptelik sy plek by die Wêreld-atletiekkampioenskappe in Tokio bespreek nadat hy ‘n indrukwekkende 9.99s by die Atletiek Gauteng-Noord-kampioenskappe in Pretoria behaal het.
Die 19-jarige het nie net sy kwalifikasie verseker nie maar ook ‘n nuwe Suid-Afrikaanse o.20-rekord opgestel terwyl hy hakskene vir sy ervare mededingers Gift Leotlela en Emile Erasmus gewys het.
Sy afrigter Thabo Matebedi het onthul dat om vroeg in die seisoen ‘n sub-10-tyd te hardloop deel was van die strategie om kwalifisering te verseker voordat die fokus na die SA Nasionale Kampioenskappe in April verskuif word.
Met verlede jaar se Olimpiese silwermedalje en junior wêreldtitels op sy kerfstok mik Walaza nou om groot naam op die wêreldverhoog te maak.