Belastingbetalers het meer as R2,8 miljoen opgedok vir die reis-,verblyf-, en versekeringskoste vir Zizi Kodwa, minister van sport en sy gevolg om die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk by te woon. Volgens Netwerk 24 het Kodwa dit skriftelik bekendgemaak na ‘n parlementêre vraag van die DA. Die openbaarmaking van Kodwa se reiskostes volg kort op die hakke van die omstredenheid van die meer as R450 000 wat uitgegee is op Bheki Cele, minister van polisie se assistent om ook die rugby-skouspel by te woon. Cele het die week weer gesê sy reiskostes is deur ‘n private skenker geborg en dat sowat R450 000 bestee is sodat sy assistent hom kon vergesel omdat hy amptelik as minister uitgenooi is. Die DA het Cele verlede week by die Openbare Beskermer verkla oor die geld wat uitgegee is vir die assistent.
