Die Saldanhabaai-munisipaliteit het ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting oor die vermiste 6-jarige meisie, Joslin Smith.
Die burgemeester van Saldanhabaai, André Truter, het vandag aan Maroela Media gesê ʼn groot soektog na die dogtertjie is nou al ʼn week lank aan die gang. Sy het verlede Maandag verdwyn en haar ma, Kelly, het haar Dinsdag as vermis by die Saldanhabaai-polisiestasie aangemeld.
Truter het oor die naweek foto’s gedeel van inwoners van Atlantis, ook in die Wes-Kaap, wat plakkate met foto’s van Joslin op vasgehou het. Dié saamtrek vorm deel van ‘n hashtag-KeepHopeAlive-veldtog wat sedert Joslin se verdwyning landwyd posgevat het.