Ondernemings in Ventersburg se omset het met soveel as 30% gedaal weens die onbeheerste plundery en roof van ‘n bende wanneer padgebruikers by die dorp stilhou. Die eienaar van die Spar-winkel op die dorp, John Pitzer, het aan Netwerk 24 gesê vragmotors wat helder oordag daar stilhou, se diesel en vragte word gesteel. Meer as 12 mense op ‘n slag word aangeval. Tans stop al hoe minder voertuie en vragmotors by die dorp se vulstasies en winkels. Pitzer het gesê die dorp bloei dood want die polisie het glo nie ‘n voertuig beskikbaar nie. Die sogenaamde Nyope-bende wat uit jong mans bestaan, voer glo ‘n skrikbewind in die dorp en val veral mense aan wat by vulstasies en kitskosrestaurante stop. Pitzer het gesê die misdaad het so erg geword dat die SA Nasionale Padagentskap die vragmotorstaanplek toegemaak het. Die polisie se eenheid vir openbare orde was vir ‘n paar weke in die dorp ontplooi maar toe hulle onttrek, het die misdaad weer begin, het Pitzer gesê.