Dit het glo die samewerking van spesialiseenhede, en baie maande gekos, om die vermeende misdaad-kartel, wat die naweek in Limpopo afgemaai is, op te spoor.
Die uiteinde van spesialisdienste se soektog, is Vrydag se bloedbad, toe lede van die polisiediens na bewering 18 verdagtes doodgeskiet het.
Generaal Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het gesê die bendelede het met hoëkalibergewere eerste op die polisie losgebrand.
Daily Maverick berig die polisie het teruggeskiet, en ‘n 90 minute-skietgeveg het gevolg.
Volgens Masemola is 16 mans en 2 vroue in die skietery dood. ‘n Polisiebeampte wat in die been geskiet is, is in die hospitaal opgeneem.
Plofstof, wat soortgelyk is aan dié wat gereeld gedurende OTM-rooftogte gebruik word, is skynbaar in die huis gevind.