Nandipha Magudumana, minnares van Thabo Bester, en vyf van haar medebeskuldigdes sal na verwagting vandag formele borgtogaansoeke in die landdroshof in Bloemfontein bring.

Magudumana, Senohe Matsoara, Teboho Lipholo, Motenyane Masukela, Tieho Makhotsa en Natassja Jansen word daarvan aangekla dat hulle Bester in Mei verlede jaar gehelp het om uit die Mangaung-maksimumtronk by Bloemfontein te ontsnap.

Luidens die klagstaat staan hulle saam met Bester en Magudumana se pa, Cornelius Sekeleni, onder meer op aanklagte van ontsnapping, hulpverlening tydens ‘n ontsnapping, bedrog, lykskending, brandstigting en regsverydeling tereg.

Nie almal staan op al die aanklagte tereg nie.

Die hof het gelas dat geen getuienis in die hof, regstreeks uitgesaai mag word nie.

Netwerk24 berig die getuies se gesigte mag ook nie gewys word terwyl hulle getuig nie.

Die getuienis mag wel later sonder beeld uitgesaai word.

Die beskuldigdes is kort na elf die hof binne gebring, waarna fotograwe gevra is om die hof te verlaat.

Lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens is binne en buite die hof teenwoordig.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×