Die eertydse kragreus het vanmiddag laat weet die Duvha, Kendal en Majuba kragstasies voeg wel weer krag tot die netwerk toe, maar met sewe ander wat nou van lyn af is, kan hy eenvoudig nie met lewering byhou nie.

Fase 2 sal van vyfuur soggens tot vieruur elke middag die orde van die dag wees, en dit sal deur fase 4 gevolg word. Eskom het gesê hy sal laat weet indien sy beurtkragplanne verander.

En terwyl daar peperduur vir krag betaal word, moet Eskom se kliënte maar gelate hul beurt afwag om van sy diens gebruik te kan maak.

Eskom is vanjaar presies 100 jaar oud. Sedert 1923 het die nutsdiens, vir meer as agt dekades lank, krag aan Suid-Afrika, en ook aan meer as die helfte van die Afrika-vasteland voorsien. Eskom het in 2001 nog met die louere as kragvoorsiener van die jaar by die Global Energy Awards weggestap.

Intussen hoop Eskom nou om bykans 24 miljard rand te verhaal deur ‘n regulatoriese aansoekproses by Nersa om hul skuld af te skryf. Die RCA is in April ingedien. Indien dit goedgekeur word, sal die 24 miljard rand by toekomstige elektrisiteitstariefverhogings gevoeg word.

Sakeleiers het skerp gereageer en gesê dat verbruikers nie gedwing moet word om te betaal vir Eskom se swak bestuur nie. Die Energie Intensiewe Gebruikers-groep, of EIUG, se Uitvoerende hoof, Fanele Mondi, het aan BusinessTech gesê die land moet aanvaar Eskom het geld nodig
om uit sy krisis te kom, maar die nutsmaatskappy moet meer doen om sy ondoeltreffendheid te bowe te kom.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×