‘n Verdagte wat in hegtenis geneem is – en glo skuld erken het – in verband met die brand by ‘n gebou in die Johannesburgse middestad verlede jaar, sal Donderdag in die stad se landdroshof verskyn.
Luidens beriggewing het hy homself aan die polisie oorhandig.
Meer as 70 mense is in die brand dood wat in Marshalltown gewoed het. IOL berig die nuusagenskap AFP het intussen inligting gekry dat die man, ‘n beweerde dwelmgebruiker, erken dat hy die stampvol behuisingblok aan die brand gesteek het om ‘n moord weg te steek.
Die SAUK berig die polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, hy sal teregstaan op meer as 70 aanklagte van moord, 120 aanklagte van poging tot moord, asook brandstigting. Die polisieondersoek duur voort.