’n Man wat reeds in die tronk is, is in die Bloemfontein-streekhof in die Vrystaat tot direkte lewenslange tronkstraf gevonnis. IOL berig die gevangene, die 42-jarige Jeffrey Bona, word by die Mangaung-korrektiewe fasiliteit aangehou en is skuldig bevind aan die verkragting van ‘n mede-gevangene.
Die provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mojalefa Senokoatsane, het gesê die verkragtingsvoorvalle het gedurende 2021 plaasgevind. Hy sê die beskuldigde en die slagoffer het hul vonnisse by die fasiliteit uitgedien toe die beskuldigde die slagoffer by meer as een geleentheid begin verkrag het.
Die slagoffer het die saak by die owerhede aangemeld en die beskuldigde is van verkragting aangekla.
Die aanklaer het in die hof aangevoer dat Bona geen berou getoon het nie en reeds in die tronk was toe hy die slagoffer verkrag het.