Terwyl die presidensie verseg om sy prestasiebeoordelings aan die DA bekend te maak, het ‘n groep politieke ontleders en burgerlike leiers ‘n punt vir elke minister toegeken. Volgens Netwerk 24 het Bheki Cele die swakste gevaar met een uit tien. Ian Cameron van Action Society het gesê sedert Cele in 2018 minister van polisie geword het, is bykans 200-duisend mense vermoor. Die polisie het versleg en korrupsie is die ergste nog. Cameron het gesê die mag het die swakste ondersoekvermoë met 14% moorde wat opgelos word. President Cyril Ramaphosa het ook ‘n swak beoordeling van drie uit tien gekry omdat hy nie sy beloftes vir werkskepping en die beurtkrag probleem kan oplos nie. Volgens prof Ntsikelelo Breakfast, ‘n politieke ontleder, kon Ramaphosa nie ekonomiese groei bewerkstellig en korrupsie of misdaad bestry nie. Dr Naledi Pandor het ook drie uit tien gekry vir haar buitelandse beleid wat kenners as ‘n gemors beskou.