Die staat het aangedui hy sal nie die borgtogaansoeke van Tewie Wessels, Willem Petzer en Devon Hofmeyr teenstaan nie.
Die drie verdagtes word van aanhitsing tot openbare geweldpleging aangekla. Die staat gooi egter wal teen Francois van der Merwe se aansoek. Hy is mededirekteur van die Bittereinders se jeugvleuel, en is reeds amper ‘n maand in aanhouding. Hy staan onder meer tereg op aanklagte van aanranding, openbare geweldpleging, asook verhindering van ‘n polisiebeampte om pligte uit te voer.
Die aanklagte teen die vier mans volg ná ‘n beweerde skermutseling tussen betogers en die polisie in Januarie by die Groblersdalse landdroshof. Die protesaksie is skynbaar saamgeroep uit solidariteit met Piet Groenewald en Stephan Greeff, wat op die dag in die hof sou verkyn. Groenewald en Greeff word onder meer aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, omdat hulle na bewering ‘n werker aangerand het. Die borgtogverhoor is tans in die hof op Groblersdal aan die gang.