Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens, of SANBS, het ‘n beroep op skenkers gedoen om so spoedig moontlik bloed te skenk aangesien die diens ‘n kritieke tekort aan bloed het. Die diens beleef tans ‘n uiterse krisis met lae vlakke van alle bloedprodukte by al die takke in die land, het Khensani Mahlangu, nasionale woordvoerder van die SANBS gesê. Hy het gesê bloedvoorraad daal daagliks tydens die skoolvakansie en het veral ‘n beroep gedoen op nuwe skenkers om na vore te kom en bloed te skenk. Nuwe skenkers sal ook die las verlig op huidige skenkers wat hulle bes doen die afgelope paar weke om genoeg bloed te voorsien. Die SANBS moet ongeveer 3500 eenhede bloed daagliks oes om in pasiente se behoeftes te kan voldoen. Elke druppel tel nou, en Mahlangu het gevra dat skenkings gedurende Julie in die gees van Mandelamaand gedoen word. Mense kan 0800 11 9031 skakel om uit te vind waar die naaste skenkings gedoen kan word. Bloed kan vandag, Vrydag en Saterdag by die SANBS-sentrum in Bloemplaza, die Vryfees by die UV, Pick ‘n Pay Hypermark in Fichardtpark, en die Victorian Square sentrum geskenk word. Vrydag en Saterdag sal daar ‘n skenkingspunt wees by Northridge Mall. Sondag sal daar skenkerpunte wees by die Baptiste kerk in Langenhovenpark (tot 12h00) en weereens by die Pick ‘n Pay Hypermark in Fichardtpark.
